Thursday, March 8, 2012

Plagiaat Perspektief



Plagiaat en die steel van woorde
‘n PerskeWang-storiegroepartikel

© VDS Brink 2012


INLEIDING

As ek een persoon se werk sonder toestemming gebruik is dit kopiereg skending; sou ek dit met ‘n aantal mense doen, dan is dit navorsing!”
Onbekend.



Ons PerskeWangers speel met woorde, woorde wat in ons is of wat ons skep soos ons deur die lewe gaan. Ons vertel wat met ons gebeur het en ons dink aan nuwe dinge; skep nuwe mense in ons gedagtes en maak dit lewendig op papier. Elke woord wat ons skryf het ons by iemand gehoor, elke gedagte ook. Wanneer oortree ons reëls en wette en wanneer is dit reg?
Die ontdekking van die Internet in 1963 was die grootste ontwikkeling sedert die drukpers en die wiel. In 1992 het die koms van HTML dit wêreldwyd op elkeen se tafel gesit en sedert 2005, in ons sakke en in ons hande waar ons ookal mag wees.
Almal weet vandag alles – of dink ten minste so –  soos woorde en beelde teen breukdele van ’n sekonde om die aarde trek. Wysheid word bedreig deur die ontploffing van dikwels sinlose inligting. In hierdie oerwoud moet die skrywer hom-/haarself vind.
Om in die lewe uit te styg is om te weet dat data en inligting maar min beteken. Grootsheid gebeur as ons kan skuif na kennis, dan insig en uiteindelik wysheid. Om dit reg te kry moet ons onsself verdrink in feite, met diverse mense meng, die water toets, wonde opdoen, daar uitkom met nederigheid en eers dan ons eie pad volg.
Die artikel kyk ook na regsimplikasies oor landgrense en nie net na Suid Afrika spesifiek nie, deur te debatteer wat reg en wat verkeerd is en probeer riglyne gee voor ons die volgende woorde skryf.
Dit berus op persoonlike ervaring, maar veral ook die werk van Clem Sunter (2005), Hanno Olinger (2004) en Ellen Kozak (2012). Die artikel het vele areas waarop uitgebrei kan word en ons as groep kan met ons bydraes help om dit volledig te maak tot almal se voordeel.




VERONTSKULDIGING

Dit is beter om liewer stil te bly want hulle mag dalk dink jy is dom as om jou mond oop te maak en alle twyfel uit te weg te ruim!”
Abraham Lincoln

Die skrywer is ’n lewenstudent. Het nie BA of LLB kon gaan leer nie, moes verdwaal tussen Fisika en Wiskunde en maar net ’n tegnokraat wat lief geword het vir woorde. Kon darem kriminele reg met onderskeiding deurkom ... as studentekonstabel in die SAPD kollege!
Die poging is PerskeWang se breinkind. PerskeKrit het dit vir ons netjies gemaak.
Afrikaans is ‘n harttaal, maar moeilik om feite logies weer te gee. Die artikel is self nie perfek nie en oortree selfs kopiereg. Vergewe asseblief, dit is gedoen in die gees van:

Wat jy ook al dink jy kan doen, begin net daarmee. Aksie gee ons genade en towerkrag.”
Johann Wolfgang von Goethe


WAT IS REG EN WAT IS VERKEERD?

Die minderheid is soms reg, die meerderheid is altyd verkeerd
George Bernard Shaw

Ons moet twee aspekte in gedagte hou: die wet en moraliteit. Die wet is die maklikste, alhoewel  daaroor ook verskille kan wees. Dis immers waaruit regslui ’n lewe maak!
Moraliteit is kompleks. Wat vir my reg is mag vir jou verskil. Dit verskil ook oor kultuurgrense. Byvoorbeeld in die Engelse kultuur (soos by ons) is veelwywery en omkopery verkeerd. In Frankryk of Arabiese lande is dit die norm. In Saudi Arabië weer ’n voorbeeld vir almal met ’n wonderlike wet: vroue mag nie motors bestuur nie!
Hoe mense mekaar groet, sit, staan, loop en gedra verskil oor kultuurgrense. Wat vir die een reg en moreel korrek is, is nie vir die ander een nie. Olinger (2007) stel die volgende goue reëls voor:
·         Is dit wettig?
·         Is daar ’n etiese kode wat ons kan volg?
·         Is dit ’n “shoosher?” en wat gebeur as jy hoor: “Moet tog vir niemand vertel nie maar ...”
·         Wat sal jou ma daarvan sê as sy dit moet weet?
·         Is daar ’n groepsbeleid hieroor?
·         Bedreig jy die regte van ’n ander persoon?
·         Vermy jy veranwoordelikheid?
·         Is daar konflik met jou pligte en die van die ander persoon?
·         Is dit goed vir die groep?
·         En wat daarvan sou almal daarvan weet?
In ons geval, kyk na hierdie riglyne, maar ook in die konteks van ons skryfwerk deur lank in die spieël te kyk en seker te wees dat ons nie oortree nie.
Onthou, niks sterf op die Internet nie (Kozak, 2012). Iets wat ons laat glip in ’n onbewaakte oomblik kan lank na die tyd na ons terugkom as ’n regseis of ons reputasie skaad.


KOPIEREG EN DIE WET

Net een ding is vir die Here onmoontlik, om die kopieregwette van ons planeet te verstaan!”
Mark Twain

Kopiereg gaan oor die 5 regte wat aan die skepper van woorde, beelde en begrippe behoort, naamlik die reg om :
·         Werk te kopieer
·         Werk te versprei
·         Werk te vertoon
·         Werk in ’n optrede te gebruik
·         Nuwe werk daarvan af te lei en te versprei

Werk word nie beskerm as dit nie in ’n medium (papier, kamera, rekenaar, doek) vasgevang is nie. Daar hoef nie ’n “©” te wees nie. Die feit dat dit oorspronklik is en dat dit vasgevang is, is genoeg.
Dit is veel meer as woorde. Om ‘n gebou af te neem en die foto kommersieël te gebruik sonder die argitek se toestemming sou ook kopieregskending kon wees. Die lustige aflaai van Google Images skend ook kopiereg.
Daar is die kriminele reg wat misdade omskryf en ook die bylaag 16-kategorie insluit vir ernstige misdade, bv. “aanranding met die opset om ernstig te beseer.”
Dan is daar die gemene reg. Dit vra een vraag: Sal ’n redelike mens so optree? Moord is ’n goeie voorbeeld. Dit berus op vorige hofsake en skuif die grense deurentyd. Suid Afrika se gemene reg is gevorderd. In die VSA is daar min van en dit verklaar die bykans 2 miljoen prokureurs wat daar bedrywig is. Om iemand se woorde te steel: is dit wat die redelike mens sou doen?
Kopiereg is vir ’n lang tyd geldig –  in die meeste lande vir 70 jaar. Ek kan dus Beethoven se musiek speel of SJ du Toit se werk gebruik sonder om sy agterkleinkinders te moet betaal!
Dit is dikwels vaag en die beste is om aan te neem dat daar wel kopiereg op werk is.
Ander slaggate vir skrywers is laster en crimen injuria.
Sou ek ’n onwaarheid oor iemand vir ’n derde persoon vertel, dan is dit laster en die skade wat dit doen kan van my deur ‘n siviele regseis verhaal word. Dit kan miljoene beloop. Koerante stel hulself hieraan bloot en gebruik dikwels “na bewering” om hul rug te dek. Selfs dit mag nie goed genoeg wees nie.
Crimen Injuria is wanneer ’n persoon die eer en waardigheid van ’n ander persoon aantas. Om sonder ’n draad klere oor Nuweland te hardloop is Crimen Injuria teenoor die toeskouers. ’n Belediging of afkraak van persoonlikheid val ook hieronder. Dit is ‘n kriminele oortreding en word deur die staat vervolg. Dit hoef nie teenoor ’n derde persoon te wees nie.  Selfs al sou ek aan jou ’n private brief stuur, kan dit ook Crimen Injuria wees.
By sommige webgespreksgroepe is daar vele voorvalle van crimen injuria en die skuldiges sou krimineel aangekla kon word. Ondanks die lafhartigheid wat dikwels hiermee saam gaan is dit nie die manier hoe ons ‘n beter wêreld skep nie.


EN AS IEMAND JOU WERK STEEL

Met net ‘n aktetas kan ʼn prokureur meer steel as honderd mense met gewere!
Mario Puzo

Dan kom jy agter jou eie woorde word gesteel. ’n Landbou tydskrif het skaamteloos ’n artikel net so, sonder verwysing woord-vir-woord oorgeneem, selfs ook prokureurs in Sandton! Wat nou?
In enige konflik volg die stappe van oorlog (Green, 2006):
·         Kyk lank en diep in die spieël en vra: “Is dit nou regtig die bakleiery werd?” Sedert die aarde 4 500 miljoen jaar gelede ontstaan het en hiërogliewe 8 000 jaar gelede, is nog nooit opgeteken dat enigeen ooit ’n argument gewen het nie. Self kon ek nooit een teen ’n vrou wen nie! Al dink ons dat ons wen, ons vernietig verwantskappe in die proses. In jou geval gaan jy dit ook nie regkry nie, die geskiedenis is teen jou!
·         Kan hier ’n gelukkige einde vir beide van ons wees? Ons het ’n plig om ander in te lig en te help.
·         Gaan gesels met ander kenners en toets dit met hulle.
·         Skiet ’n waarskuwingsskoot. “Ek merk u het ... van my verhaal, ..., gebruik, verduidelik asseblief?”
·         Sou die persoon jou ignoreer, is dit tyd vir aanval, maar nooit kop aan kop nie. Dink soos Napoleon, skiet van agter af! Skryf iets ernstig in 16pt Times Roman deurspek met Latyn en stuur ’n oudtydse faks na die persoon se kantoor sodat die sekretaresses kan skinder!
·         As dit nie werk nie, word dit tyd vir bloed en trane. Vertoon die wandaad op elke medium denkbaar! Vermy die stap ten alle koste.
Onthou dat as hulle van jou steel is dit ‘n fantastiese kompliment wat ons heerlik positief kan omdraai en op ons CV’s  vertoon.
Dit is algemene praktyk vandag in die musiekbedryf dat kunstenaars hulle volgelinge aanmoedig om hulle musiek te kopieer. Dit maak weer die stadions vol. Ons plaaslike musieksensasie wat seker die meeste Afrikaanse woorde op aarde ooit versprei het (wel...die woorde is maar skurf..), Die Antwoord, doen presies dit. Yo-landi Vi$$er gaan nie vanaand honger slaap nie!
Om op te som, moet nie ’n berg van ‘n molshoop maak nie, bevriend eerder die dief, maak een+een=tien en los die wêreld ’n beter plek ...


OM AF TE SLUIT

“Wees sag en gee om as jy kritiek gee...Dit is net so moeilik om ‘n swak boek te skryf as ‘n goeie een!”
Malcolm Cowley

Wees versigtig, wees eerlik en help ‘n beter wêreld bou. Gee volle erkenning, skakel met die skepper van die woorde of beeld.
Sou jy die slagoffer wees, haal diep asem, dink twee keer en onthou die woorde van Alexander Pope:
“Om foute te maak is menslik, om te vergewe is om iets van God in jou te hê”




VERWYSINGS EN VERDERE LEESTOF
De Bono, E. (1999) New thinking for the new Millenium, Penguin.
Demartini, J. (2004) How to make a hell of a profit and still go to Heaven. Hay House.
Friedman, T.L. (2006) The World is Flat, Penguin.
Greene, R. (2006) The 33 Strategies of War. Penguin.
Kozak, E.M. (2012) Are you a copyright criminal? Toastmaster Magazine.
Naisbitt, J. (2006) Mindset, Collins.
Ollinger, H (2004) Master’s thesis University of Pretoria, unpublished.
Peters, T. (2005) Trends, DK.
Sunter C, (2005) Socrates and the Fox, Human & Rousseau.